08/09/2026
LANGENHOVEN SE RUIMTEDROOM: Mymeringe oor Loeloeraai.
Jannie du Toit het in 1983 ‘n volskaalse musiekblyspel, getitel LOELOERAAI, in samewerking met prof Anna Neethling-Pohl geskryf en by Tukkies aangebied. Dié blyspel met ‘n verhooggeselskap van 38 sangers en 16 orkeslede is gebaseer op Langenhoven se gelyknamige ruimtefiksie van 1923.
Jannie, wat destyds die rol van CJ Langenhoven gespeel het en Fearika Heyns, wat sy vrou Lenie, gespeel het, vat na meer as 40 jaar weer in dié twee rolle hande vir "Langenhoven se Ruimtedroom". Hulle het pas 'n intieme produksie op die planke gebring waarin hulle die verhaal herleef en 'n aantal van die liedjies sing. Saam met hulle op die verhoog is die briljante jong aktrise en sangeres Zandelle Meyer. Die drie van hulle speel elkeen meer as een rol, en op dié manier gee hulle aan die gehoor 'n lewendige prentjie van wat in die musiekblyspel van 1983 te siene en te h**e was. Estrellita Crause het as regisseur vir die produksie opgetree.
IETSIE MEER OOR LANGENHOVEN SE BESONDERSE BOEK:
“Loeloeraai is in 1923 uitgegee en is waarskynlik die eerste wetenskapfiksie wat in Afrikaans verskyn het.
By die herlees van die boek was ek verstom oor Langenhoven se insig. Hy was uit die aard van die saak belese en bewus van publikasies soos Jules Verne se De la Terre à la Lune (Reis na die Maan) van 1865 en HG Wells se The first men in the moon van 1901. Langenhoven het trouens erken dat sy verhaal losweg op Wells se boek gebaseer is, maar dat hy dit na die konteks van Oudtshoorn en Sagmoedige Neelsie se gesin verplaas het.”
Uitreksel uit Koos Holtzhausen se artikel “ Langenhoven se 1923- verbeeldingsvlug maan toe”, Litnet 2019-08-04.
JANNIE VERTEL OOR HIERDIE PRODUKSIE:
“Nadat Fearika Heyns (néé Botha) die rol van my vrou (ek was Kerneels Langenhoven) in Loeloeraai (1983) by Tukkies gespeel het, het ons deur die jare goeie vriende gebly. Ons het ook nog nooit opgehou om saam te sing nie. Na die harde werk en baie tyd en energie wat onder leiding van Ansa Fourie - 1983 se musiekregisseur - ingeploeg is om Loeloeraai in 2025 volskaals op die verhoog te kry, moes ons aanvaar dat dit nie moontlik sou wees nie. Fearika en ek bly glo dat dit nog in die toekoms gaan gebeur en ons twee het besluit om iets aan te pak wat ons almal se gesamentlike droom oor Loeloeraai aan die lewe kan hou. Ons het 'n kleinskalige produksie vir drie aande aangebied: "Langenhoven se ruimtedroom".
Ons mymer oor wat Langenhoven in 1923 bedink het, oor dit wat in 1983/84 op verhoë dwarsdeur Suid-Afrika gebeur het en sing weer ‘n aantal van die liedjies. Ons word begelei deur twee topmusici - Liesl du Plessis (klavier) en Annelie du Plessis-Hoberg (dwarsfluit).”
Vertoefteater bied aan Langenhoven se Ruimtedroom
3 Oktober 16:00
Kaartjies vanaf R100 - Kontak Zelda 0828191508 of Marjorie 0828097962