Vriende van NALN

Call Directions Contact the museum

Vriende van NALN Vir die behoud en bevordering van die Afrikaanse woordkuns - letterkunde, musiek en toneel - in holistiese verband. "My erfenis is vir my mooi"

Waar die teerpad ophou.... & Saterdagmark 17 Okt 2026 - ons vier fees by NALN! Jean Cooper: "Waar die teerpad ophou". Be...
16/10/2026

Waar die teerpad ophou.... & Saterdagmark 17 Okt 2026 - ons vier fees by NALN!

Jean Cooper: "Waar die teerpad ophou". Bekendstelling met Albé Grobbelaar as gespreksleier by NALN op 17 Oktober 2026 om 10:00.

Saterdagmark: Vriende van NALN se Boekemark in die Ketelkelder. Kom kyk!
NALN 17 Oktober 2026 om 11:15-13:00. Dr Inge Venter verwelkom jou graag!

Navrae: [email protected]

Albe Grobbelaar @

'. . . my swartoogvrou, my blondhaarkind . . .' Reën in die voorwinter *G.A. Watermeyer (15 Oktober 1917 – 4 Junie 1972)...
15/10/2026

'. . . my swartoogvrou, my blondhaarkind . . .' Reën in die voorwinter *
G.A. Watermeyer (15 Oktober 1917 – 4 Junie 1972)

Op Vrydagaand die 13de November 1942, ontmoet Watermeyer die aktrise Letsie Ferreira en in Maart van die volgende jaar is hulle getroud. Dan volg daar moeilike jare as gevolg van siekte en oorlogviktimisasie. Die gesin wat intussen met een seun (Freddie) vergroot is, moet stry om kop bo water te hou. Sy vrou staan hom egter moedig by en dit is grootliks aan haar aanmoediging en vertroue in hom te danke dat hy in 1945 na jare van barheid weer begin skryf.

Die inleidende reëls van ‘n gedig soos “Reën in die voorwinter” is dan ook ‘n direkte weergawe van sy familielewe:

REëN IN DIE VOORWINTER*

Vier mure teen die Suiderwind –
my swartoogvrou, my blondhaarkind.

Kareehoutstompe in die vuur,
ketel en kaggel brons geskuur.

My bont koei lê op koringstrooi,
my swart haan roep die dagbreek rooi.

Soet deur die lang nag sing die reën;
moflammers sal ek vroeg-Mei speen.

Die wendam stoot sy uitloop oor –
blink breek my ploeg die middelvoor . . .

“Reën in die voorwinter” verskyn in sy eerste digbundel “Sekel en simbaal” as deel van ’n versameling gedigte wat die liefde, die plaaslewe en die stadslewe besing, met landelike verse soos “Lusernsny” en “Oestyd”. Watermeyer was hartstogtelik lief vir die ou familieplaas met sy kranse, populierbosse en lande jong lusern en ryp koring. Wanneer die plaaswerk dit enigsins toelaat, stap hy met sy geweer en honde die veld in.

In 1952 verskyn ’n bygewerkte en hersiene druk van “Sekel en simbaal” en in 1957 “Die Republiek van Duisend Jaar”. Dit word opgevolg deur “Taalfeeskwatryne” en “Bitter brood” in 1965.

Watermeyer se verse het bekend geraak in tydskrifte soos Die Huisgenoot en in die bloemlesing “Stiebeuel” (1946) wat D.J. Opperman en F.J. le Roux saamgestel het uit ongebundelde gedigte van jong, belowende Afrikaanse digters.

Sy eerste tydskrifbydraes staan sterk onder die invloed van W.E.G. Louw en Van Wyk Louw. In “Sekel en simbaal” (1948) het hy egter sy eie stem gevind.

Godfried Andreas Watermeyer is op 15 Oktober 1917 in die Sneeuberge in die distrik Middelburg, Kaap, gebore. Hy ontvang sy skoolopleiding tot std 6 op ’n plaasskool en gaan in 1932 na die Hoërskool op Middelburg. Groot armoede heers weens die depressie en Watermeyer se droom om universiteit toe te gaan, is tevergeefs.

In 1937 aanvaar hy ’n betrekking in die Staatsdiens in Transvaal. Hy is later spesiale korrespondent vir Die Transvaler op Vaalharts. Tydens die swaar droogte ontwikkel daar ‘n stryd tussen die plaaslike boere en die hoofbeamptes van sy department oor weiveld. As boerseun verdedig hy die standpunt van die boere in ’n kras artikel wat hom sy betrekking kos. Die gebeurtenis was vir hom ’n groot skok in sy idealisme en sy vertroue in die mens.

Daarna beklee hy vir ’n paar jaar ’n klerklike betrekking op Middelburg, Kaap. In 1940 gaan hy na die Universiteit van Stellenbosch, maar moet sy studies staak, as gevolg van ’n gebrek aan geld. Van 1941 tot 1948 werk hy in Johannesburg, met bittere teësin, as boekhouer by Engelse firmas.

Na die verskyning van “Sekel en simbaal” in 1948 word hy met die steun van vriende en organisasies in staat gestel om vanaf 1949 voltyds aan die U.K.O.V.S. te studeer. Daarna keer hy terug na Johannesburg en maak groot opgang in die reklamewêreld as direkteur van een van die grootste reklamemaatskappye in die land.

In 1971 word Watermeyer en die Nederlandse komponis Henk Badings bekroon met die gesogte Radio Televisione Italiane-prys, vir die toonsetting in kantate-vorm van Watermeyer se gedig “Die ballade van die bloeddorstige jagter”.

“Taalfeeskwatryne” bevat verse geskryf vir die Taalfees by die Voortrekkermonument in 1959. Die private uitgawe “Atlantis or The crying of the waters” bevat Engelse gedigte oor ’n toekomsryk na afloop van die vernietiging van die wêreld. “In kringe” (saam met Estelle Marais en Peet Venter) verskyn in 1999.

". . . blink breek my ploeg die middelvoor . . ."

Fotobeeld: Die jong G.A. Watermeyer 20ste en sy oupa G.A. Watermeyer 18de, het NALN besoek op 26 April 2024:
https://m.facebook.com/story.php?story_fbid=792138226234303&id=100063143970355&mibextid=Nif5oz

Philip Nel se weergawe van die gedig is by die volgende skakel beskikbaar: https://m.soundcloud.com/pjnel/reen-in-die-voorwinter?si=334d996438b84ebe88dbaf603def4495

[Berig saamgestel uit biografiese sketse, uit NALN se unieke Knipselversameling van meer as 450 000 items, deur A. Diedericks.]

*Gedig aangehaal uit: Buning, Tj. "Uit ons digkuns". Pretoria: J.L. van Schaik Beperk, 1935 (35ste uitg. p.186.) Oorspronlik gepubliseer in “Sekel en simbaal” 1948.

Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): [email protected]

Grafika: My City Bloemfontein

"Die ander Totius": P. W. BUYS (15 Oktober 1923 - 27 November 1999). Leana Lategan  vertel:'n Klompie jare gelede was on...
15/10/2026

"Die ander Totius": P. W. BUYS (15 Oktober 1923 - 27 November 1999). Leana Lategan vertel:

'n Klompie jare gelede was ons tydens 'n besoek aan P. W. Buys ook by die Totiushuismuseum in Potchefstroom. Die kortfilm wat ons dié dag kon sien, het 'n Totius-akteur gehad wat netsowel die digter self kon wees. Pieter Willem Buys was dié akteur. Hy was 'n digter en teoloog, maar ook, op meer as een vlak, 'n Totiusmens. Lees maar oor sy lewe en skryfwerk, sy liefde en omgee vir elke mens met wie hy in aanraking was, sy bediening van die Woord, en ook sy poësie, en die raakpunte is sigbaar.

Hy is op Germiston gebore en het as jong seun ook op 'n plaas tussen Brakpan en Heidelberg grootgeword. Benewens sy teologiese studie behaal hy 'n B. A.graad. As predikant bedien hy verskeie gemeentes, onder meer Bultfontein, Theunissen, Kroonstad en Noordbrug in Potchefstroom. Vanaf 1973 tot 1988 is hy professor in Etiek en Apologetiek by die Potchefstroomse Universiteit. Tussen 1983 en ' 85 is hy rektor van die Teologiese Skool.
Een van die mooi stories oor P. W. Buys, is dié van sy pastorale bediening by drie aftreeoorde ná sy aftrede as emeritus in 1988. Met sy fiets op pad na hierdie besoeke was hy 'n bekende gesig in Potchefstroom.

Buys het, behalwe teologiese en akademiese skryfwerk, ook drie digbundes gepubliseer: "Pleroma", "Wit korbeel" en "Van sigbare en onsigbare dinge". Hy was 34 jaar lank die redakteur van die kerkjeugblad "Slingervel".

'n Kennismaking met hierdie digter was 'n gebeurtenis wat 'n blywende indruk by 'n mens gelaat het. Sy skryfwerk het nie verouder nie, en die rypheid en menslike deurleefdheid daarvan is 'n durende nalatenskap.

Artikel deur Leana Lategan, afgetrede hoofvakkundige van NALN.

Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): [email protected]

Grafika: My City Bloemfontein

A.D. Keet: “O vra my nie my liefde . . .” (14 Oktober 1888 – 12 Februarie 1972)Die Keet-gesin is goed verteenwoordig in ...
14/10/2026

A.D. Keet: “O vra my nie my liefde . . .” (14 Oktober 1888 – 12 Februarie 1972)

Die Keet-gesin is goed verteenwoordig in NALN: A.D. Keet se leef- en werkomgewing, en die interessante verhaal van sy skulpgruisbedryf op Jeffreysbaai, word in die Keet-uitstalling vir besoekers visueel voorgestel. Rosa Keet en Ellen Botha het as digters in hulle vader se voetspore gevolg, en ook A.D. Keet jnr was al die jare ten nouste by hierdie skrywersfamilie in die Museum betrokke.

"Ek hou van blou" is oorspronklik gepubliseer in A.D. Keet se eerste digbundel "Gedigte" (Afrikaanse Pers-Boekhandel, 1920). Luister gerus na "Ek hou van blou” in A. D. Keet se eie stem met harpbegeleiding deur sy dogter Ellen Botha, by die volgende skakel:
https://www.youtube.com/watch?v=NbdV2XaIdqU

EK HOU VAN BLOU – A. D. KEET ​*
​
O vra my nie my liefde,​
​ ​ Ek het dit weggegee​
Aan 'n kleine koringblommetjie​
​ ​ En aan die grote see.​
​
Ek hou van bloue blomme,​
​ ​ 'k Aanbid die hemelblou,​
En jou oë vermy dit kòn ek nie -​
​ ​ Ek min hul meer dan jou!​
​
Albertus Daniël Keet is op 14 Oktober 1888 op Alice in die destydse Kaapprovinsie gebore. Hy matrikuleer aan die bekende Suid-Afrikaanse Kollege in Kaapstad en in 1909 begin hy sy studie in die Medisyne in Amsterdam. Hy was tydens sy verblyf daar voorsitter van die Suid-Afrikaanse Studentevereniging in Amsterdam. In 1917 word dr. Keet huisdokter aan die Stedelike Hospitaal in Arnhem. Gedurende sy verblyf in Nederland tree hy op as korrespondent van die “Nieuwe Rotterdamse Courant”.

Dr. Keet word ná sy terugkeer na sy vaderland ’n vurige pleitbesorger vir noue kontak met die stamlande Nederland en Vlaandere. In 1920 keer hy terug na Suid-Afrika en vestig hom as distriksgeneesheer op Senekal waar hy op 12 Februarie 1972 in die ouderdom van 83 jaar oorlede is.

Keet se eerste gedigte is in Engels geskryf, maar tydens sy verblyf in Nederland het hy in Afrikaans begin dig. Keet se eerste bundel, “Gedigte”, is in 1920 in Amsterdam by Swets en Zeitlinger gepubliseer. In 1931 verskyn ”Verspotte gediggies vir verspotte kinders”. Van sy verse is later getoonset deur die Afrikaanse komponis Jan Bouws.

A.D. Keet is sedert 1929 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en word in 1969 vereer met erelidmaatskap van hierdie organisasie sowel as met erelidmaatskap van die Afrikaanse Skrywerskring.

Op 11 Oktober 1943 word ’n Heldedagviering op Senekal gehou in die vorm van ’n A.D. Keet-aand, met die hele program bestaande uit voordragte en sang uit sy werk.

Die radiojoernalis Bettie Kemp maak ’n radioprogram in die programreeks "Ink in ons are" wat aan hom gewy is en oor Radiosondergrense uitgesaai word.

Kom kyk gerus na A.D. Keet se uitstalkamer.

*Gedig aangehaal uit: P.J. Nienaber. Die Wonder van Afrikaans. Johannesburg: SAUK, 1959.

["Briewe van Anton van Wouw aan A.D. Keet", saamgestel deur A.D. Keet jnr. , A.D. Keet-Publikasiefonds, 1981: Beskikbaar in Vriende Van Naln se Museumwinkel. Navrae: [email protected] ]

Grafika: My City Bloemfontein

Dalene Matthee: “Want oral in ons lê sade wat op ontkieming wag, sade wat ons nie altyd sal verstaan nie. Goeie sade, sl...
13/10/2026

Dalene Matthee: “Want oral in ons lê sade wat op ontkieming wag, sade wat ons nie altyd sal verstaan nie. Goeie sade, slegte sade – hang af wattter een ons die meeste water gee.” (UIT: Die Uitgespoeldes – Penguin Uitgewers, 2005.)

“Ons het die voorreg gehad om iemand te ken wie se hart ook die bos se hart was. Sy het met verbasende eerlikheid gelewe en was geseën met unieke gawes wat die lewe van almal geraak het,” volgens ds. Dawid de Wet, tydens Dalene Matthee (13.10.1938 – 20.02.2005) se roudiens op Hartenbos, 23 Februarie 2005.

"Dalena Scott is op 13 Oktober 1938 op Riversdal in die Suid-Kaap gebore. Sy was die middelste van vyf kinders – drie dogters en twee seuns. Die Scotte is van die ou Stilbaaise geslag Scotte wat afstammelinge van sir Walter Scott is. Dalene word groot op Riversdal en vakansies bring hulle op die nabygeleë stranddorp Stilbaai deur. Langs daardie see het sy elke poel, elke slangsleepsel in die duine en elke tortelduif se nes geken. Toe sy klein was, het sy gedink alle mense het ’n huis op die dorp en nog een by die see.

"Dalene se pa, Danie, het ’n fyn aanvoeling vir musiek gehad en het tot op sewentig nog pragtig viool gespeel. Hy was ’n bouer en haar ma, Hester, ’n huisvrou.

"Dalene vertel aan Cynthia Zietsman dat sy ’n leeshonger kind was en dat die eerste boek wat haar werklik aangegryp het, The Water-Babies van Charles Kingsley was. Sy beskou dit as ’n groot metafisiese werk.

"Dalene het gedistingeerde voorvaders gehad, maar sy erken onomwonde dat sy maar altyd die swart skaap was. Haar pa se ma was familie van president Steyn en baie bewus van haar sosiale stand. Sy het Dalene as onmoontlik beskou: die kind wat nie op haar borduurwerk wou konsentreer nie en haar glad nie soos ’n dame gedra het nie.

"Reeds as kind het sy bevliegings gehad om van ’n onderwerp wat haar beetpak, alles te wil weet: musiek, seilvaart, die pole, sterrekunde. “Om te weet jy kan hier in die grondpad sit met jou sterreboek en jou flits en die naghemel bo jou en jy kan die lig van die verlede sien ...” vertel sy aan Petra Müller.

"In Dalene se derde jaar op skool ontdek sy tyd en doen onmiddellik ’n hoë koors op by die besef dat sy nog tien lange jare op die skoolbanke sou moes deurbring.

"Daar was net twee dinge wat sy goed kon doen en dit was opstelle skryf en klavier speel. Toe haar tienerjare aanbreek, is Dalene slegs geken as die stoutste kind op Riversdal.

"In 1956 matrikuleer sy aan die Hoërskool Langenhoven op Riversdal." *

*Lees gerus verder uit Litnet se skrywersprofiel van Dalene Matthee, saamgestel deur Erika Terblanche, uit NALN se unieke Knipselversameling van meer as 450 000 items: https://www.litnet.co.za/dalene-matthee-1938-2005/

NALN IS DIE TROTSE BEWAARDER VAN DALENE MATTHEE SE MANUSKRIPTE EN PERSONALIA.

Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): [email protected]

Grafika: My City Bloemfontein

Crystal-Donna Roberts:  'n Klokhelder lag. Ons onthou . . .Crystal-Donna (13 Oktober 1984 - 6 Maart 2025) was 'n aktrise...
13/10/2026

Crystal-Donna Roberts: 'n Klokhelder lag. Ons onthou . . .

Crystal-Donna (13 Oktober 1984 - 6 Maart 2025) was 'n aktrise en televisieaanbieder en is in Bloemfontein gebore. Dié oudleerling van Eunice High School was veral bekend vir haar hoofrol in "Krotoa" (2017) waarvoor sy die SAFTA-toekenning vir beste aktrise in 2018 gewen het.

Roberts het reeds vroeg in haar loopbaan Suid-Afrikaners se harte gesteel met haar rol in "7de Laan", "Fynskrif" en "Arendsvlei".

Sy was een van vier skrywers wat gekies is vir die Jakes Gerwel Stigting en NB-Uitgewers se mentorskapprogram vir opkomende skrywers in 2021. Roberts het as kinderboekskrywer gedebuteer met "Speurder Sammi: Die blou steen" (Tafelberg, 2023) wat sy as deel van dié Bosberg-boekskryfprogram geskryf het.

Crystal-Donna Roberts het in 2019 op die geselsprogram, "Tussen Ons", vertel van haar borskankerdiagnose en dat sy ’n dubbele mastektomie moes ondergaan. Ná die operasie is daar kankerselle in haar kliere opgespoor waarvoor sy chemobehandeling ondergaan het.

Lees gerus:
Totsiens, Crystal-Donna: ‘Ek hoop mense onthou my as iemand wat die wêreld met liefde benader’
https://www.netwerk24.com/sarie/bekendes/ons-praat-met/crystal-donna-roberts-ek-hoop-mense-onthou-my-as-iemand-wat-die-wereld-met-liefde-benader-20230130

Grafika: My City Bloemfontein

🎉📚 10 000 keer dankie! Ons NALN-gemeenskap het gegroei tot 10 000 volgelinge, en daarvoor is ons opreg dankbaar. 🤎Dankie...
13/10/2026

🎉📚 10 000 keer dankie!

Ons NALN-gemeenskap het gegroei tot 10 000 volgelinge, en daarvoor is ons opreg dankbaar. 🤎

Dankie aan elkeen wat saam met ons lees, onthou, ontdek en die rykdom van die Afrikaanse woordkuns vier. Julle belangstelling en ondersteuning help ons om ons taal, letterkunde en erfenis te bewaar, te vier en lewendig te hou vir toekomstige geslagte.

Baie dankie dat julle deel is van NALN.

RIV LINDA Rode (3 Julie 1937 - 11 Oktober 2026) 'n Hart vir stories... Linda Rode (89) was 'n kind van die Klein-Karoo, ...
12/10/2026

RIV LINDA Rode (3 Julie 1937 - 11 Oktober 2026) 'n Hart vir stories...

Linda Rode (89) was 'n kind van die Klein-Karoo, vertel Leana Lategan. Sy is gebore op 'n plaas naby Ladysmith (Kaapland), en het daar in 'n plaasskooltjie skoolgegaan. Vir haar hoërskooljare gaan sy na Riversdal, waar sy in 1954 aan die Hoërskool Langenhoven matrikuleer.

Sy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, en behaal haar kwalifikasies in onder meer Afrikaans en Duits (Honneurs). Daarna gee sy onderwys op Calvinia en Hermannsburg, en later ook by die Pionierskool op Worcester, en Herzlia in Kaapstad.

Ná hierdie onderwysloopbaan doen sy vryskutwerk vir uitgewers, vertaalwerk oor 'n wye gebied, en ook kreatiewe skryfwerk. Maar dis veral in die genre van die kinderboek waar haar hartswerk en blinkste nalatenskap lê.

As plaaskind was sy verknog aan die veld en die diere en saam met die maats in die plaasskooltjie en die kinders van die plaaswerkers speel sy ure om en verken die wêreld rondom hulle. Hulle vertel vir mekaar stories, en Linda leer ken 'n gans nuwe, betowerende wêreld van magiese verhale en oeroue omdievuur-stories.

Daar is ook belangrike goed vormende invloede uit ander oorde: Haar ma, wat lank self 'n onderwyser was, is self 'n avontuurlike leser en bestel boeke uit Amerika (die "Bookshelf"-reeks, uitgegee deur die Home University) waarmee die jong Linda kennis maak.

In die klaskamer van die plaasskool is daar 'n tweedeur-glasboekrak waarin skatte te vinde is. Klassieke Victoriaanse werke kan sy daar uitneem, en die heel wonderlikste ontdekking, Afrikaanse vertalings van Duitse sprokies, is ook daar!

Saans, voor die lekker warm Aga-stoof, vertel Linda se pa vir haar Jakkals en Wolf-stories. Uit 'n mengelmoes verhale en ervarings groei daar 'n ryk verbeelding, 'n vrugbare teelaarde wat wag op skryfwerk...

Linda Rode kon terugkyk op 'n leeftyd waarin sy 'n skat van verhale nagevors, verwerk, oorvertel en oorspronklik geskryf het. As samesteller van versamelbundels het sy onskatbaar waardevolle werk is byeengebring: "Stories vir die vaak", "Goue lint, my storie begint", "Goue fluit, my storie is uit", en die "In die nimmer-immer bos".

Met "Stories suid van die son" het sy 'n unieke werk aangevoor deur skrywers uit te nooi om verhale in die taal van hulle keuse aan te bied (Afrikaans, Engels en Tswana). Een van Linda se bekendste treffers is seker "Vrede op aarde", 'n Kersfeesboek wat 'n mens jaarliks teen Desember wéer nadertrek.

Afgesien van bloemlesings het Rode ook haar eie skryfwerk nie afgeskeep nie en " 'n Glimlag kan groei" en " 'n Wors het twee ente" gepubliseer. As medesamesteller was sy by 'n paar publikasies betrokke, terwyl sy ook kundige en puik vertaalwerk gedoen het:
"Dans met armmansdogter" (Pamela Jooste), en "Bitter heuning" (Hermione Suttner).

Linda Rode se unieke bydrae tot ons literatuur lê in die feit dat sy oor die wydste moontlike spektrum van 'n interkontinentale verhaalskat geput het om sprokies, folklore, fabels, mondelinge vertellings, en mitologie elemente bymekaar te haal en dit vir die Afrikaanse kind beskikbaar te maak.

Sy het vernuwend gewerk, maar met piëteit, opwindend, maar met omsigtigheid, humoristies, maar nooit laf nie. Haar stories het áltyd die laaste bekoorlike sê, en haar woorde die laaste helder klanke.

Sy het elke prys wat sy ontvang het verdien: die M.E.R. -prys (twee keer); die C.P. Hoogenhoutprys; die Alba Bouwerprys, en 'n IBBY-ereroltoekenning.

Rode was hooggeag deur akademici en kollegas, haar medeskrywers en haar studente.

Sy word oorleef deur haar eggenoot Erwin, en 'n seun en 'n dogter. Ons dra graag ons opregte meegevoel aan hulle oor.

Michelle Botes: Die geliefde. Ons onthou . . . Michelle Botes (12 Oktober 1962 - 21 Desember 2024) het veral bekendheid ...
12/10/2026

Michelle Botes: Die geliefde. Ons onthou . . .

Michelle Botes (12 Oktober 1962 - 21 Desember 2024) het veral bekendheid verwerf as Princess in die Afrikaanse TV-reeks "Arende". Sy het ook onder meer as aktrise uitgeblink in "Liewe Hemel, Genis!", "Wolwedans in die skemer", "Triptiek", "Konings", "Onder draai die duiwels rond", "Binnelanders", "Die Swart Kat", "Isidingo" en
"Legacy".

In haar laaste onderhoud wat sy enkele weke gelede met Bruis - Afrikaanse tydskrif gedoen het, het sy openhartig vertel van haar stryd die afgelope twee en 'n half jaar met gevorderde veelvuldige myeloom, ’n seldsame, ongeneeslike soort bloedkanker wat die beenmurg affekteer:

“Wat ookal op my wag, ek is gereed. Ek het volkome vrede en is innig dankbaar vir elke paselladag wat vir my gegun word.”

Michelle Botes is in Maart 2026 postuum op die 19de Safta-prysuitdeling in Midrand as die beste vroulike byspeler in ’n dramareeks aangewys.

Sy is gedurende haar loopbaan met verskeie SAFTA- en Golden Horn-toekennings bekroon.

In 2005 is Michelle deur die tydskrif "Elle", JFPI Corporation en die koerant "Sunday Times" vereer as die stylvolste Suid-Afrikaanse beroemde.

Die Duku Duku-toekenning is vier jaar agtereenvolgens aan haar toegeken, onder andere in 2005 as "Best Onscreen Villian".

Sy het die Crystal Award vir Beste Aktrise drie keer gewen.

Michelle en Robert Whitehead (Barker Haines) het ook 'n toekenning ontvang vir Beste TV-paartjie in "Isidingo".

By die 19de jaarlikse Avanti-toekennings is Michelle benoem as Beste Aktrise vir haar rol in "Isidingo".

Die koerant "The Star" se Top-100 het haar in 2002 onder die top-10 op televisie geplaas.

"G-Sport" het Botes as "Vrou van die Maand" aangewys in Oktober 2006.

Ons eer Michelle Botes se merkwaardige nalatenskap.

Grafika: My City Bloemfontein

Address

H/v President Brand/en Elizabethstraat
Bloemfontein
9301

Opening Hours

Monday 08:00 - 16:00
Tuesday 08:00 - 16:00
Wednesday 08:00 - 16:00
Thursday 08:00 - 16:00
Friday 08:00 - 16:00

Telephone

+27722607117

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Vriende van NALN posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Contact The Museum

Send a message to Vriende van NALN:

Share