02/09/2026
Daar ’s waaigras in die laagtes en tulpe by die vlei. Daar ’s botterblom en bloublom . . .
Lente in die Karoo* – I.D. du Plessis
Nou gee die helder dae, soos blomme vir die by,
Die mooiste kleure wat hul het,
En dit vir jou en my!
Ontstuimig slaan die vygiegolwe teen die rant se hang,
Tot bo-op word ’n branding in die holtes opgevang:
Bont water wat in poele tussen rotse agterbly.
Nou gee die stilblou nagte, soos blomme vir die by,
Die mooiste geure wat hul het,
En dit vir jou en my!
Die wonder van die aandblom het eindelik gebeur
In laagtes wat soos wierookkomme oorloop van sy geur
En dit in heuningvlae oor die gannabosse sprei.
Hoor die skugter kelkiewyn
Se wilde noot van vreugde en pyn!
Daar ’s waaigras in die laagtes
En tulpe by die vlei,
Daar ’s botterblom en bloublom,
En dis vir jou en my!
%%%
I.D. du Plessis se kleurryke woorde waarmee hy die Karoo se “helder dae” met die “mooiste kleure” beskryf, bevestig die woorde van J.C. Kannemeyer:
"Du Plessis is een van die veelsydigste en vrugbaarste skrywers wat die Afrikaanse letterkunde nog gehad het. Naas jeugverhale, navertellings van ou legendes en volksverhale, spookstories, kortverhale, essays, werke oor die Maleiers en 'n outobiografie is hy die skrywer van twintig bundels poesie - bloemlesings en versamelings uitgesonderd - waarin hy uiteenlopende vorme soos die ballade en sonnet, die biegvers en hekeldig, die volkse vers en kwatryn beoefen ..." (Kannemeyer, 1978: 311).
As erkenning vir sy werk ontvang Izak David du Plessis (25 Junie 1900 – 11 Desember 1981) in 1937 die Hertzogprys vir sy digbundels "Vreemde liefde" en "Ballades" (albei uit 1937) en in 1962 die Scheepersprys vir jeuglektuur.
As oorgangsdigter van die Dertigs getuig sy ontroerende biegverse van brandende hartstog waarin hy die angs en vertwyfeling van sy siel uitstort, in bundels soos "Stryd" (1935) en "Vreemde liefde" (1937).
I. D. du Plessis is bekend vir sy kennis van die Maleierkultuur. Sy belangstelling in sport het gelei tot sy rugby-jeugboeke en die roman “Olimpiade” (1938) met die Olimpiese Spele as agtergrond. In sy doktorale verhandeling bespreek hy die Kaapse Maleiers se bydrae tot die Afrikaanse volkslied. Sy versamelde verhale van die Kaapse Maleiers verskyn reeds vroeg in die dertigerjare, soos “Uit die Slamse buurt” en “Die gevleuelde perd”. Vanaf 1942 tot 1982 verskyn die versameling “…ander Kaapse stories” waarin al die titels begin met welluidende name soos “Doederomandro en …” “…Baroen en …””Maboersa en …”, asook “Sapen Sewekop”.
Hy het was betrokke by die Kaapse Klopse en het Maleierkore na Europa georganiseer. As blyk van waardering oorhandig die Maleiergemeenskap ’n oorkonde in vyf tale aan hom op 3 Julie 1943. Dié ryklik versierde adres is saam met ’n groot deel van sy boekery en personalia aan NALN geskenk.
%%%
*'Lente in die Karoo' is aangehaal uit: Lied van die land: ’n Bloemlesing oor Suid-Afrika, saamgestel deur D.J. Opperman. Kaapstad: H.A.U.M. – J.H. de Bussy, [1958], p. 47.
[Die berig is saamgestel deur A. Diedericks.]
- - - Kontak NALN: Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum: [email protected] of skakel 072 260 7117. - - -
(Kurator: Wyno Simes).